Oordenkinge vanuit die as (Lesse geleer uit kerk konflik).
Oordenkinge vanuit die as (Lesse geleer uit kerk konflik).
Advies vir jong mense, advies wat ek nooit wou vat. Ek het gehoor maar nie geluister nie. Ek was ook in my jonger dae vol passie en gedrewe, rond geruk deur elke wind en opinie. Nie gegrond in die waarheid nie, maar passievol vir ware woorde. Jong mens, (onder 32jaar, laat die leser verstaan), bly stil, sit voor in die kerk, lees jou Bybel, bid vir jou gemeente en ouderlinge, dien jou gemeente met elke kilojoule wat in jou liggaam is, wees eerste by kerk en laaste om te loop, wees die beste lid wat die kerk het, wees n’ uitnemende lid sodat die ouderlinge met blydskap oor jou kan waak en nie al sugtende nie; want dit is vir jou nie nuttig nie. 1 Petrus 5:5: “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
Advies vir ouer mense, wees voorbeelde. Wees soos die ou eikebome wat diep gewortel is in jou plaaslike gemeente, sprei jou takke om vir die jongelinge skadu te gee in tyd van vuur en vlam. Die jong mense (ons) het nodig dat daar skanse is wat ons kan beskerm teen die vlamme in die stryd, dat daar standvastigheid is. Dat daar mense is wat met liefde en wysheid optree, nie met passie, vuur, vlam en sonder selfbeheersing nie.
Advies vir vrouens, laat julle woorde gesprinkel wees met genade. Vrouens, wees sagmoedig, hê die versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. Dit is kosbaar voor God vrouens, nie die versiering van trots, kortgebondenheid en n’ harde gees nie. Die versoeking vir vrouens is daar om te skinder en te sondig met die tong. Timoteus se vir ons daar was vrouens wat nie net ledig was nie maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie. Die vrouens praat wat nie behoorlik is nie, dit is die versoeking wat daar lê vir vrouens. Maar vrouens daar is n’ beter weg, die weg van genade. Moet nie vuil praat nie, skindery, praatsiek en bemoeisiek maar praat net 'n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. Vrouens, tydens kerk konflik, maak seker jou woorde is woorde wat genade gee aan die wat dit hoor.
Advies vir ouer vrouens, leer die jonger vrouens om hulle mans lief te hê en nie om ander mans te verag. Leer die jonger vrouens om sonder murmurering te wees, om met dankbaarheid en vreugde te lees. Wees genadig en wees liefdevol.
Advies vir Mans, wees heldhaftig. Mans wees die mense wat vir jou kerk bid, wees die mense wat ander beskerm, wees die mense wat verantwoordelikheid vat, wees die sonder murmurering, sonder teëpraat. Die wat die graaf en die troffel optel en werk. Hou op praat, hou op kla, en werk.
Watse standaarde, gewigte en maatstawe word gebruik. Dit verbaas my (nie) hoeveel van die verlaters (en blyers) Twee soorte gewigte gebruik. Dit is inderdaad vir die Here 'n gruwel, en 'n valse weegskaal is nie goed nie. Die (on)skuldige party word gemeet en gehou teen valse standaarde, teen onrealistiese maatstawe en idealistiese standaarde. Ons tref vergelykings wat onvanpas, sonder genade, sonder gronde is. Ons is ondankbaar vir wat die Here ons gegee het, en dis hoekom ons maatstawe gebruik om iets anders (wat ons wil hê) te regverdig bo die ander.
Wyse raad, Horatuis Bonar se die volgende: “Die liefde vir nuwighede het al menige siel laat skipbreuk ly. Die hunkering na “iets nuuts” is nie net die begeerte van die manne van Athene nie, maar ook van baie mense in die kerk van God. Hulle is rusteloos en word rondgeslinger deur allerlei vreemde en uiteenlopende leringe. Ou waarhede raak vir hulle alledaags en sonder aantrekkingskrag. Twiste moet soms kom, net soos struikelblokke; maar soos Dawid se skerp skeermes werk hulle bedrieglik en is dit moeilik om veilig te hanteer. Dikwels vreet hulle die liefde uit die hart, selfs wanneer hulle nie die geloof vernietig nie.” Ek sal byvoeg dat iets nuuts altyd opgewondenheid bring, net soos wat die vorige het. Die vorige kerk was ook eens op n’ tyd nuut en vol nuwe vreugde, net so sal die nuwe kerk eendag oud wees, die gebed is net dat die nuwe kerk nie die volgende vorige kerk is nie. Die lof vir die vorige was groot, maar in die oë van sommiges het die standvastige verander en is nie meer van pas vir hulle nie.
Advies vir Christene (& vorige lede), hoop die beste van mekaar. Hoop die beste van die wat destyds bewakers van jou siel was. Hoop die beste van die wat jou nog nooit rede gegee het van vertwyfeling. Hoop die beste van feilbare mede-broers, liefde hoop alles en verdra alles. Die liefde, wat ons gegee is, is n’ liefde wat sê; “Here, laat my my eie sonde groter sien as die sonde van my broer”. Horatius Bonar sê “dat ons altyd die sonde van ander deur n’ mikroskoop sien, maar ons oë toemaak vir ons eie sonde”, laat dit nie van ons waar wees nie. Laat my broer se tekorte bedek word met my liefde. Ons as Christene oordeel mekaar vinnig tot die dood, ons oordeel mekaar vinnig, te vinnig. Ons oordeel sonder twyfel in ons eie vermoë en sonder genade vir ons broers. Advies vir Christene, is dat ons nie vinnig moet wees om te oordeel nie, ons moet eerder vinnig wees tot genade, vinnig wees om vir ons broer die voordeel van die twyfel te gee. Ons uitkyk op ander se sonde moet genadig wees, ons uitkyk op ons eie sonde moet sonder genade wees.
Dit vat een vlam om n’ veldbrand te begin. Dit vat een rebelse vlammetjie om n’ veld aan die brand te steek. Die is soms n’ goeie ding, in tye wanneer heldhaftigheid benodig word. Dit moet as heldhaftig gesien word dat daar mans was, wat standvastig was in hierdie tyd van kerk konflik. Dit moet as lafhartig gesien word dat daar mans was wat weg geswiep, rond geswiep en om geswiep was. Ek sluit myself ten tye by die laaste groep in, die Here het my gewys dat ek voete van klei het, dat my geloof nie so sterk is nie, dat leuens my soms kan mislei, dat mense my soms kan oortuig van n’ alternatiewe “waarheid”. Dat my eie hart vol sonde is, vol trots en vol afguns. Genadiglik, is dit die Here wat ons standvastig maak en nie ons eie krag nie. Die Here is ons standvastige rots.
Teologiese kennis is nie indrukwekkend nie. Teologiese kennis, goeie argumente en vleiende woorde is nie die merke van volwassenheid vir die Christen nie. Liewer volwassenheid lê by n’ groei in liefde (1 Cor 13; Fil 2:1-4) vir God en vir mekaar. Liefde vir God word gekenmerk deur groei in gehoorsaamheid, nederigheid en getrouheid. Liefde vir mekaar word gekenmerk deur die neerlê van selfsug, trots en ons eie begeertes om mekaar te dien.
Kerk konflik knak, dit is nooit lekker om die mense wat jy lief het te sien vernietig, of te sien hoe die mense wie jy liefhet vernietig word nie. Konflik wys ons waar ons hart is, Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Laat elke Christen treur as daar divisie in die liggaam (plaaslik en globaal) plaasvind.
Kumbaya, net so 3 minute voor daar enige teken was van n’ vlam het almal saam gesit in liefde en kumbaya gesing. Dit was so 3 minute na die vlam wat almal ewe skielik ontaard het in kerkreg spesialiste. Die musiek het gesing en ware karakter het uitgekom, liefde vir mekaar, genade met mekaar, getrouheid aan die liggaam was skielik onbelangrik. Dit was nou meer belangrik om die tekortkoming van almal onder die vergrootglas te sit, om geskiedenis te herskryf en om fout te soek in alles en met almal. Die Heilige Gees bring vir ons tot herinnering, laat ons in kerk konflik herinner word hoe die Here van tevore (en nou nog) gewerk het. Die goeie werk wat Hy begin het, in ons en in andere. Mag ons mense wees wat saam ons mede broers deur die valleie gaan en tot die pieke klim.
Volg die geld. Dit is die bekende joernalistiese se ding. Dit dra baie waarheid, dit is die wêreld se eweknie vir, daar waar die hart is, is waar die huis is. Ons is vinnig om vingers te wys na die misbruik in die charismatiese kerke, maar in ons deel van die ryk lyk dinge nie veel anders nie. Dit is mense met geld wat anders hanteer word, mense met gesag wat mag afdwing, mense met trots wat sekere verwagtinge dra. Dit is waar dat sekere mense verskillend hanteer moet word (1 Tessalonisense 5:14) maar ons sien n’ waarskuwing teen die versagtende hantering van ryk mense in Jakobus 2:1-4. Laat ons nie in dieselfde pit val as die moderne kerk en mense met handskoene hanteer omdat hulle mag het, laat ons almal met regverdigheid hanteer, soos wat die Here behaag.
Konflik, vrede of gemak. Die voorbeeld wat ek nog altyd (9jaar) gesien het van my ouderlinge is nie een van Konflik, vrede (menslike vrede) of gemak nie maar liewer een van getrouheid. Ons ouderlinge het deur die jare al menigte male kerk dissipline beoefen, nie omdat hulle van konflik hou nie, maar omdat hulle getrou is aan hulle Heer. Hulle het nie gemak gekies nie, maar getrouheid en daardeur vrede (met God). Dit is in tye van kerk konflik wat meeste mense gekies het tussen konflik of vrede. Daar was sommiges wat die konflik aangegryp het, en gedrewe deur hulle vleeslike passies het hulle onmin gesaai. Daar was sommiges wat gemak gekies het, hierdie gemak was vinnig gewys deur vinnige verskonings, vinnige optrede, vinnige vordering (verdwyning). Daar was die (die mindere – op verskeie maniere) wat getrouheid gekies het (vrede met God). Hulle het gekies dat die Here, hulle banier, die geveg sal wen. Die vyand sal vel en die oorwinning sal gee (in hierdie lewe of die volgende).
Redes, ek het ook geleer dat daar baie redes gegee word omdat mense n’ kerk verlaat maar dat daar werklik net een ware rede is. Die geleentheid was aangegryp, die wind was sterk en die seile was gespan. Die boot was reeds reg.
Leef in vrede met almal. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. Die Here sal vergeld. Die Here sal dit wat verkeerd is reg maak gelowige, so seker as wat die son more oggend opkom so seker sal die Here regverdig wees en regverdig doen. Gelowiges vertrou op die Here, en gehoorsaam hom. Laat hy vergeld, moet nie self vergelding soek nie. Prys die Here vir sy goedertierenheid.
Die loopgrawe is vol helde. Ek het onlangs gepreek uit die boek van Filippense en in hierdie boek het ek vir Calvyn aangehaal. Hy sê; “Dit is in die loopgrawe wat vyande in vriende verander”. (parafraseer). Dit was in hierdie tyd van konflik wat ware vriendskappe versterk is. Dit was in hierdie tyd van aanval, deur vyande, die duiwel en broers dat hierdie gesamentlike band wat ons deel versterk is en gesuiwer was. Dit was in hierdie konflik wat ek besef het dat, my broers maak my sterker, want wanneer ek swak was het ek na hulle gekyk en die weg van genade geleer, wanneer die wraak opgevlam het, was dit dat ek na hulle gekyk het en gesien het hoe Christen mans moet optree.
Ouderlinge is helde, my ouderlinge is helde. Die Here het my aan hulle toevertrou, as hulle hierdie sondaar kan tem dan is hulle van die beste van bewakers. As oorlog kom, en berge val is hulle die mans wat my getrouheid sal geniet. Dit is nie n’ maklike werk of taak nie geliefdes. Ek verstaan meeste mense dink hulle sal n’ beter werk as hulle ouderlinge kan doen, ons weet ook dat meeste mense hulle self baie hoog ag. Die Bybel vereis van ons dat ons onderdanig aan hulle moet wees, en hulle vreugdevol laat waak.
Die tong is konflik, die tong is vlam, wie die tong kan Beheer is sterk. Jakobus 1:19-20: “SO dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. Want die toorn van 'n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.” Ek dink van al die sondes, was die sondes wat met die tong gepleeg word die volopste. Gee ag aan jou woorde Christen, jy gaan verantwoordbaar gehou word vir wat jy sê (en skryf).
Vrede met God is die begin, en Vrede met mekaar is die resultaat. Hoe kan Christene anders lewe as in vrede met mekaar? Hoe? Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê. Hoe kan ons dan hierdie saligheid vermy, die vrede wat God gee, net vermy? Ons broers wat ons liefhet verag?
Die Here het gewerk, die Here werk ten goede mee vir die wat hom liefhet. Hy werk ten goede mee vir die wat konflik aanhits, hy werk ten goede mee vir die wat bemoei is. Hy werk ten goede mee vir die wat verlaat, en hy werk ten goede mee vir die wat bly. Hy werk ten goede mee vir al sy kinders, Prys die Here vir sy goedertierenheid.
Konflik Psalm
Here
Was dit vyand of was dit vriend
Heeltemal onverdiend
Tog gee U dit, net soos U gena
Die het ons nie voor gevra
Tog bly U goed, elke gawe n’ geskenk
Here
Was dit vyand of vriend
Heeltemal onverdiend
Tog gee U dit, uiterse genade
U wil en U werk
U het begin en U sal volbring
Hierdie werk, een van silwer wat smelt
U werk in beide
Al was dit vyand al was dit vriend
Vir vriend na U wil
Vir vyand na U wil
In ons het U gewerk,
Nou meer standvastig en sterk
Alles vir U kerk.